Cheetah Bulletin 1

snipimage
Die vertonings van die drie spanne uit Sentraal-Suid-Afrika – die Toyota-Cheetahs (Super Rugby), Shimlas (Varsity-beker) en Ixias (Varsity-skild) – tot dusver vanjaar in hul onderskeie kompetisies het gewys die Bedryfsregspan van die Cheetahs, Griekwas en die Griffons hóórt in die strafste kompetisie ter wêreld – die Superrugby-reeks van die Suidelike Halfrond.

• Die Ixias (SUT), wat verlede jaar die Varsity-skild ingepalm het, het soos ‘n wafferse renperd uit sy ‘’wegspringhok’’ geskiet en die eerste drie ligawedstryde op ‘n streep gewen – klop Wits (25-12), klop Uni. KZN (30-10) en klop Fort Hare (34-19) - voor daar teen die Uni. Wes-Kaap in Kaapstad met 23-37 vasgeval is.

• Groot verwagtinge word vanjaar van die Shimlas in die UV-rugbyklub se eeufeesjaar verwag. Dié Kovsies, wat verlede jaar die halfeindstryd van die Varsitybeker-reeks gehaal het, het eweneens soos ‘n kampioen afgesit, en die Ikeys, wat in 2011 die Varsity-beker ingeoes het, op hul tuisveld in Kaapstad oortuigend met 38-10 verslaan.

Maar net toe die Shimla-ondersteuners begin regskuif vir ‘n groot seisoen deur die manne in Blou en Wit, tóé kom die Madibaz (NMMU) van die Baai die volgende Maandag óp Shimlapark en versuur in die laaste minuut van die kragmeting die UV se feesvieringe met ‘n naelskraapse sege van 29-27. Die Maties het die Shimlas se planne verder in verongeluk deur die Bloemfonteinse studente in Stellenbosch met 20-7 met die kous oor die kop huis toe te stuur.

‘n Nuwigheid in vanjaar se studentekompetisies - om die Varsity-beker, die Varsity-skild, die Onder20’s en die Koshuis-beker - is dat doelskoppe 3 punte tel, en dat straf- en skepdoele slegs 2 punte werd is. Die SA Rugbyraad en die organiseerders van dié universiteitskompetisies het spesiale toestemming van die Internasionale Rugbyraad gekry om dié puntetoekenning te beproef, wat dalk verreikende gevolge in die toekoms wêreldwyd kan hê.

• Vandag om 19:00 speel die Shimlas op Shimlapark in Bloemfontein teen die Uni. Johannesburg, terwyl die Ixias Rand toe gereis het vir hul kragmeting, óók vanaand om 19:00.

Vodacom Super Rugby

Daar was heelwat opwinding vir die afgelope Saterdag se Super15-wedstryd tussen die Toyota-Cheetahs en die MTN Leeus op Coca-Colapark in Johannesburg.

Die Toyota-Cheetahs het met ‘n rotsvaste verdedigingspatroon die Leeus se spel ontwrig en die Goudstad se span het ook in lynstane gekreun. Die algemene spel én skopwerk van die jong Johan Goosen het kenners opnuut gaande gehad, én hy het dikwels met lang skoppe sy span op die voorvoet geplaas. Hy’t wéér indruk gemaak met die gemak waarmee hy stel- en skepskoppe van verder as 50 meter hoog deur die pale kan laat seil.
Máár, ongedissiplineerde spel het die Toyota Cheetahs duur te staan gekom en twee geel kaarte en nege Elton Jantjies-strafdoele (‘n nuwe Super-rekord) later, was dit ‘n erg teleurgestelde Toyota Cheetah-span wat die veld ná ‘n nederlaag van 25-27 verlaat het.

Agt van die groep van 22 spelers, wat Saterdag vir die Toyota-Cheetahs diens in Johannesburg verrig het, was die eerste keer op Superrugby-vlak vir dié span betrokke, terwyl dit ook ‘n relatief onervare span was wat die Leeus aangedurf het: die Toyota Cheetahs se beginspan het saam 264 Super-wedstryde vir die span agter die blad gehad, teenoor die Leeus se totaal van 478 Super-wedstryde vir húl beginspan.

Die Toyota Cheetahs het dus Saterdag om 17:05 ‘n duur rekening om teen die omgesukkelde Bulle in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein te probeer vereffen.

50 Superrugby wedstryde vir Adriaan

Dit was Saterdag Adriaan Strauss, vurige en besielende kaptein van die Toyota-Cheetahs, se 50ste wedstryd vir dié span, én Hennie Daniller (heelagter) het nou reeds 48 Super-wedstryde in die Toyota-Cheetah-trui gespeel.

Superrugby Bedryfsreg

Intussen hang die swaard nog oor ‘n SA bedryfreg-unie se span vir deelname in 2013 aan die Superrugby kompetisie - om dan plek te maak vir die Southern Kings. SARU het ná ‘n vergadering verlede week bekend gemaak dat ‘n afvaardiging van SARU aanstaande maand samesprekings oor die netelige saak met die ander Sansar-vennote in Australasië sal vergader.

Vodacombeker voorbereidings

Helgard Müller, afrigter, se Vodacombeker-span het noustrop in vriendskaplike oefenwedstryde teen Griekwas en die Griffins getrek. Dié span – wat voortaan as die Toyota Vrystaat XV bekend sal staan – se statistieke sal afsonderlik aangeteken word en spelers wat in dié span speel, se totale sal nie meer by ander statistieke – Curriebeker, en ander eersterangse wedstryde – vir die Vrystaat bygereken word nie.

Intussen

Sedert die laaste Toyota Cheetah Bulletin op 30 Oktober 2011 die lig gesien het, het daar heelwat in Vrystaatse rugby gebeur.

• Met die jaarvergadering van die VRU op 29 November is mnr. Lindsay Mould, hoof van die Laerskool Grey, tot die nuwe President van die VRU verkies, nadat mnr. Harold Verster ná die skeiding van die twee ampte nie meer beskikbaar was nie. Mnr. Harold Verster, wat voorheen Besturende Direkteur van die Cheetah-maatskappy én President van die VRU was, is nou die Besturende Direkteur van die Cheetah-maatskappy.

• Adriaan Strauss, Springbok-haker en kaptein van die Toyota-Cheetahs, het die voorreg gehad om op 26 November 2011 vir die internasionale Barbarians teen Australië op Twickenham, Londen, te speel, terwyl Andries Strauss (senter), PW van Vuuren (haker) en Sias Ebersohn (losskakel) óók op Twickenham vir die Suidelike Halfrond teen die Noordelike Halfrond gespeel het.

• Die Vrystaat-flank Pieter Labuschagné het op 6 Desember sy eerbewys as die Toyota se Mees Waardevolle Speler van 2011 se Absa Curriebeker-reeks van Toyota in Bloemfontein ontvang. Adriaan Strauss was tweede en Johan Goosen derde.

• Vrystaat-rugby het ook sy deel tot die Versoeningsdag-feesvieringe van die plaaslike regering bygedra deurdat die Toyota Vrystaat Cheetahs in die Vrystaat-stadion in ‘n vertoonwedstryd teen die Griffons gespeel het. Die Toyota Vrystaat Cheetahs het met 33-15 geseëvier. Ons voorste skeidsregter, mnr. Jaco Peyper, was in beheer van sake. ’n Sokkerwedstryd tussen Free State Stars en Bloemfontein Celtic het ook tydens dié vieringe plaasgevind.

• Meer as 50 spelers het vroeg in Desember 2011 ‘n strawwe oefenkamp by die militêre basis Tempe in Bloemfontein gehad toe hulle hul gewone oefenklere vir bruin weermag-oorpakke verruil het as deel van hul voorbereiding vir 2012 se Superrugby-seisoen. Die Toyota Cheetah-groep het later by die kus hul voorbereiding gaan afsluit.

• Drie Vrystaters - Boom Prinsloo, Chris Dry en Robert Ebersohn – is ingesluit in die Springbok-sewesspan, wat aan die eerste twee toernooie van die Internasionale Rugbyraad in Doebai en in Port Elizabeth deelgeneem het.

• Die hoof ANC-eeufeesvieringe is van 5 tot 8 Januarie in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein gehou.

• Twee Vrystaters – mnre. Jaco Peyper en Lourens van der Merwe – is op die merietepaneel van 12 skeidsregters van Sansar ingesluit. Mnr. Peyper het juis die afgelope Saterdag die Superrugby-wedstryd tussen Australië se twee top-spanne, die Reds, huidige Super15-kampioen, en die Waratahs in Sydney beheer. Hy doen komende Saterdag diens as blaser in verre Dunedin, Nieu-Seeland, in die kragmeting tussen die Highlanders en die Crusaders, die sewemalige Super-kampioen. Mnr. Van der Merwe is die komende naweek die reserwe-skeidsregter vir die Super15-wedstryd tussen die Leeus en die Hurricanes in Johannesburg.

Klub Rugby: Uitdaagbeker-Kompetisie

Die VRU het op 1 Februarie 2012 aangekondig dat agt spanne van die Vrystaat en die Griffons in ’n nuwe Uitdaagbeker-kompetisie sal meeding. Die Vrystaat word deur Collegians, Crusaders, Oud-Greys en Bloemfontein-Polisie verteenwoordig, met die Griffons se Welkom Rovers, Oud-Skoliere van Bethlehem, Harmony van Virginia en Hennenman wat Groep B sal vorm.

Die kompetisie het op 18 Februarie begin, en die eerste uitslae is:

o Welkom-Rovers klop Collegians 94-0;
o Hennenman klop Bloemfontein-Polisie 29-27;
o Crusaders klop Bethlehem se Oud-skoliere 41-31.
o Oud-Greys het hulle aan die wedstryd teen Harmony van Virginia onttrek.

Die bepalings vir Saterdag 3 Maart is:

o Collegians vs Harmony (Bloemfontein, 16:00),
o Crusaders vs Hennenman (Bloemfontein, 16:00),
o Welkom Rovers vs Oud-Greys (Welkom, 16:00),
o Oud-Skoliere vs Bloemfontein Polisie (Bethlehem, 16:00).

Nuwe Cheetahtjie

Baie geluk aan Barry Geel en sy vrou Fleur het Vrydag ‘n babadogtertjie, Belamé, ryker geword het.

Gholfdag in Welkom

Toyota Cheetahs bied op Woensdag, 29 Februarie ‘n gholfdag, geborg deur die Goldfield Casino op die Oppenheimer Gholfpark in Welkom aan. Belangstellendes is welkom om vir Rentia Nell te kontak by 083 308 4244 of rentia@fsrugby.co.za.

Toyota Cheetahs – Gaan Groot

Die veldtog vir 2012 is Gaan Groot! en die Toyota Cheetahs nooi almal om ons hierdie jaar op ‘n GROOT manier te ondersteun!

Die veldtog bestaan uit verskeie opwindende aksies en die eerste daarvan sal sigbaar wees met die eerste Superrugby tuiswedstryd op Saterdag 3 Maart wanneer die Toyota Cheetahs die Vodacom Bulls die stryd aansê.

Met komplimente van die borg, SAB sluit die vermaak vir die dag in Juanita du Plessis, Jakkie Louw, Hugo en Joubert wat van vroeg reeds af op die hokkieveld agter die hoofpaviljoen gaan besig wees en weer na die wedstryd tot laat. Ondersteuners kan uitsien na ‘n lekker dag in Vrystaat Stadion met hope vermaak vir die kinders in die nuwe speel area en duisende ballonne om die tuis afskop van die seisoen aan te kondig. Na afloop van die wedstryd gaan die Toyota Cheetahs ook op die veld wees om ondersteuners te ontmoet. Hekke open om 12:00 en kaartjies is beskikbaar by die kaartjiekantoor in Vrystaat Stadion asook by Computicket.

Spesiale pakkette is ook beskikbaar vir groep van meer as 20 persone teen R50 vir die hoofpaviljoen en R40 vir die ooppaviljoen.

snipimage2

This entry was posted on Monday, February 27th, 2012 at 5:46 pm and is filed under General, Marketing. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.

4 Responses to “Cheetah Bulletin 1”

  1. Pap Snoek Says:

    Ek het gisteraand wedstryd teen Maties en Tuks gaan kyk was maar n saai storie tot die laaste 20 min aangebreek het ,mens kan sien dat daar strukture in WP en NTVL rugby is en tot my skok moes ek hoor dat die Shimlas n groot drag slae gekry het van UJ .Soos ek al laas week gese het dit wil my voorkom asof daar werklik groot probleme in die Vrystaat rugby wanneer laas het die Shimlas so n pak gekry,kan iemand net vir my se waar le die probleem.

  2. JJ Says:

    @ PAP SNOEK…MY VRIEND AS EK NOU NET MY BESKEIE MENING KAN LIG…LEES NET WEER HIERBO…NIE NET SHIMLAS WAT MY PLA NIE, MAAR KLUB RUGBY…COLEGIANS KRY N PAK, POLISIE VERLOOR EN OLD GREY ONTREK WANT DIE RUMOR WAT DI RONTE DOEN IS DAT OLD GREY, DIE RUGBY KLUB, DIE KLUB WAT SOVEEL VRYSTAAT SPELERS OPGELEWER HET, WAT DIE TROTS VAN BLOEM GEWEES HET WAT KLUBS AAN BETREF KAN NIE EERS N SPAN OP DIE VELD STOOT NIE…NOU PAP SNOEK WAT EN WAAR LE DIE PROBLEEM…JY SIEN VROEER JARE TOE EK NOG RUGBY GESPEEL HET VIR BEKENDE KLUB, TOE MAG GEEN EN WAS DAAR GEEN STUDENTE IN N KLUB NIE…DIE KLUBS HET BESTAAN UIT JONG WERKENDE MANNE…NOU VANDAG IS DIE VARSITY, KOVSIE, TUKS, CUT ALMAL OOP VIR ENIGE OU, NOU STUDEUR DIE 1 PEL EN SY MAAT NIE, SO WAAR GAAN SY MAAT OOK WIL RUGBY SPEEL, NATUUR BY VASITY WANT DIE GEES IS DAAR EN DIE GIRLS OOK…PAP SNOEK RUGBY IN BLOEM SAL EERS REGKOM WANNEER DIE OU REEL WEER INKOM DAT SLEG STUDENTE MAG VIR VARSITY SPEEL, N WERKENDE JONG SPELER, MOET VIR N KLUB SPEEL, DAN GAAN ONS RUGBY IN KLUBS EN ALLE VLAKKE REGKOM AS DAAR STRUKTURE EN DIE INFRAKSTUKTUUR REG IS..

  3. Theuns Says:

    Wragtag JJ in my Jare op Bloem was dit so. Klub rugby was gesond en daarom was die Unie gesond. Klubs soos Oud Studente en Schoemanpark glo ek bestaan lankal seker nie meer nie.

  4. hennie groenewald Says:

    indien n bal draer die bal teen die regop paal druk dan tel dit as n doel (drie)
    waarom dan nie dieselfde reel vir indien n skopper die regop paal sou tref nie?
    groete
    hennie

Leave a Reply