Harold Verster gee antwoorde vir ons bloggers

Ons is almal passievol oor die Vodacom Vrystaat Cheetahs - en soveel ondersteuners het soveel verskillende menings. Ons verskil almal oor spankeuses en raak moedeloos as die afrigtingspan nie met ons saamstem en spelers kies wat ons nie sou kies nie.

Ons het elkeen ons voorkeure in sekere keuses – en so het die afrigters ook hul voorkeure. Daar is egter een seker ding – daar sal altyd meningsverskil wees oor die span - en ons sal altyd stry oor die regte span – of dit nou ons Cheetah span is en of dit die Springbokspan is – dit is deel van rugby om te gesels en te redeneer in die soeke na ‘n wenspan.

Soms is dit die dinge van die veld af wat ons warm onder die kraag maak – hetsy dit toeskouergetalle is, ‘n kwotabeleid, ‘n bakleiery, die bier wat nie reg is nie of die vermaak wat nie aan ons verwagtinge voldoen nie. Soms is dit soos meer huidig die spelers en hul kontrakte – die weggaan van gekontrakteerde spelers of die aankoop van “verkeerde” spelers.

Dit is hier waar ons die skuld gee vir die bestuur – en antwoorde soek van die bestuur. Op hierdie blog word redelik vrye teuels gegee aan wat bespreek mag word – en tensy dit lastelik mag wees, bietjie grof on heeltemal buite orde is word die kritiek toegelaat – dalk heeltemal meer so as wat party ander Unies sal toelaat op hul webtuistes.

Met dit ingedagte is besluit om harde reguit vrae te verwys na Mnr Harold Verster ten einde antwoorde te bekom vir ons bloggers. Hierdie vrae het ingesluit die volgende:

“Ek dink dis lankal tyd dat Verster ons antwoord op die volgende :

1) Wat is die presiese begroting van die Unie en hoeveel is die Vodacom borgskap ??
2) Hoeveel daarvan gaan aan spelers en hoeveel aan homself en die bestuur ?? Is dit proporsioneel tot die grootte van die begroting ?? (hy kan mos nie dieselfde as byvoorbeeld Blou Bulle se pres verdien nie.
3) Wat word gedoen om borgskappe te kry ?? Dit grief my dat WP, Blou Bulle en Cheetahs dieselfde borg het maar die bedrae is nie dieselfde nie - hoekom?? Sover ek weet het die Cheetahs seker een van die grootste “support bases” want selfs al is hul nie almal se 1e span is hul dikwels hul 2e. Die Bulle is groot agv hul “branding” - so hoekom nie Vodacom sover kry om Cheetahs dieselfde te borg of as hul nie wil nie, iemand te kry wie sal - ek is seker MTN bv sal by rugby wil betrokke raak… En moenie my vertel dit gan oor groter bywoning want sover ek verstaan maak hekgeld maar iets soos 10% van die Bulle se inkomste uit.
4) Wat presies het met JP Joubert se kontrak fout gegaan ?? Dis interessant dat Mapoe s’n geldig is maar syne nie (is die “rumor” dat jul eensydig sy huistoelae wat in die kontrak was, geskrap het sonder sy handtekening en dus die ongeldigheid teweeggebring het ??) ‘n Eerstejaar in kontraktereg sal jou vertel dis nie die manier om dit te doen nie.
5) Hoe lank gaan hy nog die pres wees of gaan hy wag dat dieselfde gebeur as destyds toe hy aan bewing gekom het (en die Sonnekus clan uitgeskop is na ‘n paleisrevolusie ??) Daar is ‘n tyd om te kom en te gaan (en nie net aan die ver betaaltjek elke maand te dink nie)
Ek was nog al die jare ‘n groot Cheetah ondersteuner, maar ek kan hul nie meer ondersteun terwyl die bestuur net na hulself kyk en vere voel vir die unie. Dit is tyd vir drastiese optrede en vir sekere “fat cats” om aan te beweeg. Intussen sal ek maar die Bulle ondersteun want minstens is hul bestuur en strukture in plek. Dit is hoekom Ludeke wie by die Lions wggejaag is, hul tot S14 kampioene kon brei - want die afrigter het kwaliteit bestuur, spelers en fasiliteite tot sy beskikking. Naka sal hul ook ‘n kampioenspan kan maak.

Ek is bly om mee te deel dat ons antwoorde ontvang het!

Harold Verster van die Vrystaatse Rugby Unie antwoord soos volg:

Dit is met graagte dat ek hierdie vrae beantwoord.

Ek het nog altyd ‘n baie openhartige benadering tot ons ondersteuners gehad en ek antwoord nog altyd op enige vrae wat in my rigting kom. Dit is dus vir my vreemd dat verwys word “dat dit al lankal tyd is dat Verster ons moet antwoord”.

Ek antwoord soos volg:

1. Die spelersbegroting van die Vrystaat Cheetahs beloop R16.2 Miljoen per jaar. Dit in vergelyking met die Sharks en Bulls se begrotings van meer as R40 Miljoen per jaar. Self die Stormers en Leeus het bykans 2 tot 3 keer soveel geld as die Cheetahs om spelers mee te kontrakteer. Ons vul die R16 miljoen tot R20 miljoen met individuele borgskappe aan – dit verg uiterse harde werk!

Die borgskap van Vodacom is vertroulik van aard, maar die Bulls s’n is meer as die Cheetahs s’n, terwyl die Stormers s’n presies dieselfde is.

Die verskil lê egter daarin dat die omset van die Cheetahs in sy totaliteit R50 Miljoen per jaar beloop, in vergelyk met byvoorbeeld met die Sharks en Bulls s’n wat bykans R150 Miljoen per jaar beloop. Die rede vir hierdie groter omsette is hoofsaaklik die aantal losies wat die Bulls, Sharks, WP en Leeus beskikbaar het - naamlik bykans 300 teenoor die Cheetahs se 100. Die Sharks en Bulls vra gemiddeld R120 000 tot self R200 000 vir ‘n losie, terwyl die Cheetahs, met moeite in die streek, ‘n losie vir R100 000 verkoop kry. Daarbenewens het die Sharks, Bulls en WP ‘n geweldige hoë getal seisoenkaartjies (ongeveer 15 000 tot 20 000), terwyl die Cheetahs se seisoenkaartjiegetalle ongeveer 8 000 is. Die rede is weer eens die grootte van die mark ens..

2. Bykans 50 % van al ons inkomstes gaan direk terug na die span, omdat dit ons produk is, en omdat dit belangrik is vir ons ondersteuners en die vertoning van die span. Die gemiddelde besteding aan spelers van groot Unies is net oor 30 % van hulle totale inkomste, terwyl die Vrystaat sin heelwat oor 50 % beloop.

Die Blogger is korrek dat ek nie soveel as die amptenare van die Bulls en die Sharks kan verdien nie, omdat ons omset laer is. Ons Direksie besef dit, en daarom is my salaris bykans 50 % minder as van die groot Unies se Hoofbestuurders- en Presidents toelaes.

Dit sal die blogger dalk intereseer om te weet dat ons Unieraadslede en Direkteure van die Cheetahs (Edms) Bpk onderskeidelik R2 000 per jaar en R10 000 per jaar ontvang. My salaris is meer as die helfte minder as van ons Topspelers.

3. Alles word gedoen om nuwe borgskappe te bekom. Ons is self in die mark en is besig om met ongeveer 200 maatskappye te onderhandel saam met ons hoofagent, Megapro wat ook vir die WP en vir SARU borgskappe werf. Ons is trouens tans besig om met MTN te skakel asook met verskeie ander groot instellings. Die Blogger is reg om te sê dat hek-inkomste maar sowat 10 % van die inkomste uitmaak, maar soos reeds verduidelik is die groot bron van inkomste, losie- en seisoenkaartjie-inkomstes en dit is as gevolg van die aantal losies, die aantal seisoenkaartjies en die grootte van die mark wat tog logieserwys verduidelikbaar is.

4. Die fout met JP Joubert se kontrak, was ‘n tegniese fout in die kontrak, en die arbiter het die kontrak ongeldig verklaar, terwyl Mapoe se kontrak geldig verklaar is. Ek sal graag vir Die blogger wil nooi om te gesels oor hoe ingewikkeld spelers-kontrakte deesdae is. Ek sal dit nogal interressant vind hoe eerstejaars-studente dit sou hanteer in terme van ‘n Rugbyspeler wat nie net uit ‘n kontrak oogpunt gehanteer moet word nie, maar ook uit ‘n Arbeidswet-oogpunt. Allerlei aspekte soos siekteverlof, verlof, dissiplinêre kodes ens. moet in ag geneem word. Dit klink miskien na ‘n eenvoudige saak, maar daar is verskeie interesante feite waaroor advokate soms verskillende opinies uitspreek, en waarna SARU, SARPA (dit is die Spelers-assosiasies) en SAREO (die Rugby-Unies se organisasie of vakbond) baie ernstig elke keer na kyk. Die blogger sal dit dalk interresant vind dat Jacques Fourie en ander se kontrakte deur ‘n arbiter op tegniese punte tot niet verklaar is, maar dat ons Vrystaatse kontrakte so goed is, dat Mapoe sin geldig verklaar is. Dit is een van die min gevalle dat ‘n Unie teenoor spelers in die verband wen. Dit is nogals ‘n veer in die hoed vir Vrystaat-Rugby. ‘n Kontrak word eers in ‘n dispuut as een van die partye daartoe problem het of wil breek met die kontrak, dan is dit maklik om na foute te soek, soos hulle se: “hinde sight is a perfect science!”

5. Ek sal so lank President wees as wat die persone my verkies. Ek wil nie by ‘n Unie wees waar ek nie welkom is nie. Ek is nog die afgelope 4 keer onbestrede en eenparig verkies. Ek het onlangs weer ‘n volle mosie van vertroue van my Unie ontvang. Ek doen dus die werk met nederige dankbaarheid solank as wat my mense my wil he. Ek stem saam dat daar ‘n tyd is om te kom en ‘n tyd is om te gaan, ek sal dit doen wanneer die mense my nie meer wil hê nie. Sover het ek die die volle ondersteuning van al die persone wat kan stem.

6. Ek merk op dat die blogger sê dat hy vir baie jare ‘n Cheetah-ondersteuner was, maar dat hy nou die Bulls gaan ondersteun. Die rede van sy verandering van lojaliteit is as gevolg van die bestuur van “FAT Cats” is, en wat nie omgee vir hulle spelers en bestuur nie.

Die blogger het ‘n vrye keuse om ‘n Bulls ondersteuner te word. Ek moet egter drasties van hom verskil na sy verwysing na Vrystaatrugby se “Fat Cats”. Die Unielede werk ontsettent hard tot laat in die aande en die Adjunk-President en President gee byna 24 uur, 7 dae van die week aandag aan Vrystaatrugby. Die vergoeding wat hulle ontvang is veel minder as die groot Unies s’n. Dit is bloot net ‘n feit!

Die fasiliteite wat die Vrystaatse-Rugby tot beskiking van die Afrigters en spelers stel is van die beste in wêreldrugby, en ek weet dit want ek was by verskeie Rugby-instellings reg oor die wêreld gewees. Ons gimnasium fasiliteite is van die beste in Afrika, en ons stadions is een van die bestes in die land. Alle fasiliteite soos kantore, tegniese toerusting, vervoer-toelaes waaroor die afrigters en bestuursspanne en spelers beskik is van die beste. Dit sal dus goed wees as die blogger eers al die feite bymekaar maak voordat hy tot wilde beslissings en besluite in die verband kom. Ons dien Vrystaat-Rugby met ‘n passie, soos nog altyd, ons gee meer tyd aan Rugby as wat ons moet, want ons gesinne ly daaronder, en dit is hartseer om te hoor dat ‘n persoon na Vrystaat Rugby se bestuur as “fat cats” verwys. Dit is so ver van die waarheid as wat dit kan wees.

Ek sluit af deur te sê ons waardeur die ondersteuning aan Vrystaat Cheetahs. Ons het tans ongeveer ‘n miljoen van hulle in die land. Ons gaan weer wen en ons gaan weer goed presteer en ons sal weer borge vind.

Sterkte die blogger, wie jy ondersteun is jou saak en voorspoed daarmee.

Met agting,

Die uwe

Harold Verster
President
en
Besturende Direkteur

Ns. ‘n Woord van dank teenoor Mnr Verster vir die antwoord van hierdie vrae. Ons besef dat dit nie almal tevrede sal stel nie - maar ons waardeer die kommunikasie met die bloggers. Ons sal graag as passievolle bloggers en ondersteuners meer antwoorde op vrae wil bekom - nie net van die bestuur nie maar ook van die afrigters.

Al is ons meestal baie krities - is hierdie ooprigting kommunikasie miskien ‘n stap in die regte rigting om die ondersteuners se insette te laat tel in die daarstel van ‘n wenspan op die veld!!

Mag ons steeds kan kritiseer sonder om persoonlik bededigend te wees en mag ons steeds die vrymoedigheid geniet om hierdie vrae te kan stel op hierdie webtuiste!

This entry was posted on Friday, August 20th, 2010 at 12:41 am and is filed under Guestwriter: 15. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.

26 Responses to “Harold Verster gee antwoorde vir ons bloggers”

  1. Nelio de Sa Says:

    awesome article :-)

    RUGBY15 supports your franchise 100%

    well done with your achievements!!!

    I dont think there is any president of any Rugby Union that will even have the guts to talk back to the unhappy unloyal supporters out there.

  2. Louis Nortje Says:

    Ek dink dit vat BAIE “guts” vir n president om hom bloot te stel en met die ondersteuners te gesels. Baie dankie Mnr Verster. Ek glo ook dat baie van die bloggers “kompulsiewe” klaers is wat nooit regtig tevrede sal wees nie. Baie van hulle praat met die hart en nie met verstand nie.

    Dis ook maar menslik, veral as ons as ondersteuners so passievol vir ons Cheetahs is.

    Ek dink dis ook n groot frustrasie (en vir bestuur) dat ander unies ons talent na willekeur opraap.(veral die flippen Haaie)

    weereens, ek glo dat ons die jaar sal opstaan en die beker kan wen. Met ons span is enige iets moontlik.

    Net 1 versoek, kan bestuur nie meer met ons gesels nie?

  3. johan Says:

    Gun my net n opmerking of drie as ek mag.Mnr Verster u is vir my n bietjie vaag oor die tegniese punt in J.P. Joubert se kontrak.As julle gefouteer het eken dit ten minste.Voordat u weer vir u veer in die hoed sit maak seker dat dat daar nie foute soos met J.P.Joubert se kontrak insluip nie en dan kan julle begin vertel hoe goed Vrystaatrugby is.Ek is net so bly soos julle dat Mapoe se kontrak geldig is maar is dit die moeite werd om n speler te forseer om by jou te speel as hy nie wil nie.Beding dan liewer vir n goeie oordrag bedrag en koop of behou goeie spelers.
    I just wan to make one comment on what mr de Sa had to say about unloyal supporters.Ninety eight percent of the supporters are loyal but they can see if there is problems with the union.Mr de Sa i am supporting Freestate ruby since the seventies and we know what their capabilities was and still is.One thing for sure and maybe that is where we differ,i hate losing.

    Steeds n getroue Vrystaat Cheetah ondersteuner tot ek doodgaan,

  4. Chris Says:

    Harold Verster - Baie dankie vir jou antwoorde.

    Ek wil graag nog vrae vir u vra en hoop dat dit ook geantwoord kan word:

    1) Ek dink nie ons afrigters kom die mas op nie. Die bloggers was nooit voor Naka aangestel is as afrigter so negatief nie. Sal jy die moeite doen om te kyk vir nuwe afrigters waneer Naka se kontrak eindig aan die einde van die seisoen? Hoe word afrigters aangestel by die VRU, wie is in beheer en wie besluit watter spelers gekoop moet word en ook wie stel die hulpafrigters aan? Kies julle die beste afrigter of kies jul die afrigter wat jul die beste mee oor die weg gaan kom of wie dalk ‘n vrien dis of dalk ‘n werk benodig?

    2) Hoekom speel ons nie meer hardlooprugby nie? (Volgens baie van ons bloggers is dit Naka se skuld en ek kan nie sien dat hul verkeerd is nie). Wie besluit watter spelpatroon gevolg word?

    3) Hoekom kan daar nie met SARU gepraat word om rugby in SA meer kompiterend te maak nie? Dit is nie goed vir rugby om een span met 10 springbokke te laat speel teen ‘n span sonder enige springbokke nie. As die Springbokke meer versprei kan word sal “skills” ook meer verspreid word en dit sal maak dat elke Curriebeker wedstryd ‘n grote is … selfs die Bulls teen die Pumas.. Is dié ‘n dom sienswyse of nie en kan u dit met SARU opvat of sal hul dink dat dit belaglik is?
    Goeie en gesonde kompetisie sal die Curriebeker se status weer terugbring nadat dit bietjie verklein/terruggesak het weens die S14/S14.

  5. Guestwriter 15 Says:

    Louis - ek belowe om te probeer om meer kere met die Unie te gesels en te vra of hul ons vrae sal beantwoord. Dit is jammer dat party soms persoonlik raak en wil kritiseer selfs oor die persoonlike lewens van spelers of nie-spelers, maar ons sal daardie vrae maar ignoreer en regtig probeer om hierdie reguit vrae soos hierbo gestel deur ‘n blogger beantwoord te kry.

  6. Chris B Says:

    Mnr Verster, ek is oortuig dat ons oor verskeie aspekte nie met mekaar gaan saamstem nie, maar ek glo dat dit nie my of enigiemand anders se reg is om u of enige van u kollegas met disrespek te hanteer en aan te spreek nie.
    Alhoewel ek u menings respekteer, is dit ook ongelukkig noodsaaklik dat ons met mekaar kan verskil en dit op ‘n reguit, maar beskaafde wyse.

    Ek maak die stelling dat u die ondersteuners se werklike vrae en kwellings omseil, en nie antwoord nie. Die kwessie van hoeveel geld Vrystaat-rugby het is al holrug gery, al is dit ‘n wesentlike deel van ons rugby in die VS. So ook is die kwessie van kontrakte al holrug gery.
    Die ondersteuners vra die volgende, en DIS die vrae wat hulle graag antwoorde op wil hê:
    1. Waarom hou ‘n unie wat veral soveel minder geld as sy “opponente” het, aan om spelers te koop wat ons nie nodig het nie, wat ons reeds het, en wat banke warm hou i.p.v. te produseer op die kontrakte wat hulle het en voor betaal word.
    2. Waarom probeer soveel talentvolle spelers met soveel ywer wegkom uit VS rugby ( J.L.Potgieter, J.P.Joubert, D.Vermeulen, W.de Waal, L.Mapoe, B.Pieterse, ens. ens., en selfs Rassie wat in die middel van ‘n S14 kompetisie in Australasië al sy bedanking aankondig ? )
    3. Weekliks kla ondersteuners oor spelers wat nie naastenby in die span of beginspan hoort, ten koste van spelers wat beter vaar, ingesluit word ( bv.Demas & Bosman, om net 2 te noem.) En hierdie is nie sommer net “speler voorkeure” van ondersteuners nie. Statistieke en TV materiaal bewys hierdie bloggers week na week as reg. En daar is genoeg bewyse dat hierdie ondersteuners daaroor saamstem! En as u dié blog, Volksblad en ander blogs gereeld sou lees, sal u sien dat die ondersteuners se menings nie van week tot week verander nie.
    4. VS rugby kla oor die “gebrek” aan geld, maar sluit kontrakte met briljante jong spelers, wat meer op die bank sit ( ten spyte daarvan dat statistieke en resultate in wedstryde bewys dat hulle moet SPEEL ), en soos die geskiedenis noual bewys het, kort-voor-lank deur die Haaie, bulle en WP afgerokkel word. En ek deel nie die mening dat dit suiwer oor geld gaan nie. As dit so was, moes spelers soos Os en Juan lankal verkas het, want ek glo hulle kon van die grootste kontrakte in die wêreld kry. En dit was maar ook presies dieselfde in die amateur dae. Spelers wat beoog om ‘n baie suksesvolle rugbyloopbaan te bou, in die kort tydjie wat ‘n rugbyspeler tot sy beskikking het, kan nie bekostig om op die bank te sit, slegs 5 of 10 minute speeltyd, en blootstelling, te kry nie!
    5. Bosman is reeds oppad Haaie toe, maar JW, ‘n goeie senter, sit of op die bank, of speel glad nie, Tewis speel ‘n baie swakker game in die VS opset as Carse, maar Carse sit op die bank, ‘n puik senter soos P.Snyman moet vleuel speel, terwyl JW nie eers in die span is nie. JW is wel nie eintlik ‘n vleuel nie, maar is in die verlede gereeld as vleuel ingespan. En die beste van alles is dat naas Nokwe, is JW waarskynlik die VS se mees gereelde driedrukker ! En die talentvolle 2 Ebersohns kry weinig geleentheid om ervaring op te doen, en werklik te wys waartoe hulle in staat is.
    6. Die ongelooflike gebrek aan struktuur en rigting by ons agterlyn, ongeag wie gespeel word, dui sonder twyfel op swak en onbeholpe agterlyn afrigting. En tog word daar midde-in hierdie geld tekort ‘n agterlyn afrigter aangestel wat duidelik nie die mas opkom nie, en sommer nog ‘n ander afrigter ( Horak) wat niemand eintlik weet wat sy doel is nie. Terwyl ons lojale oud-Vrystaters se dienste, soos Gysie, en sy seun, verloor oor een of ander ongelukkigheid.

    Ongeag wat u menings oor my stellings hierbo is, wys die resultate dat die ondersteuners ‘n baie belangrike standpunt het, dat ons spelers verkeerd bestuur word, wat tot onsekerheid en ongelukkigheid lei, en dis hoekom ons hulle verloor. Ook dat die hoofafrigter in elke wedstryd behoort te sien ( want nie die ondersteuners nie, maar die uitslae en statistieke wys dit ) dat daar ernstige leemtes is, maar hardkoppig weier om aan advies aandag te skenk. Die span wat vandag aangekondig is om Saterdag teen die Luiperds te speel, onderskryf daardie mening. En intussen word baie spelers wat van die beste in SA is, se loopbane verongeluk, en hulle kanse om as Springbokke in ag geneem te word verydel.

    Ek glo dat dit juis om daardie rede is wat ondersteuners u begin verantwoordelik hou, want in u posisie behoort u, en is dit u verantwoordelikheid om rigting aan die afrigting-span te gee as dinge nie reg loop nie, en dinge loop NIE reg NIE. Wie gaan ‘n losie koop op ‘n stadion waar jy nooit weet wat jou span die volgende wedstryd gaan aanvang nie ? Nie alle groot besigheid koop goed wat nie vir hulle resultate kan inbring nie. Baie van ons wys al uitnodigings van MPY’e na hul losies van die hand.
    By ander unies word ook swak tye ondervind, maar daar laat ondersteuners nie toe dat spelers, afrigters en bestuur wat nie die mas opkom, onbepaald aanbly nie.

    Ek het ‘n probleem met u stelling oor die feit dat daar op soveel geleenthede ” mosies van vertroue ” uitgespreek is teenoor u en die bestuur van VS rugby. Die verkiesing waarin B.Wolmarans u sou teenstaan, was geensins onbestrede nie, en het ‘n geurtjie gedra van die opponent met snaakse “reëls” te verhoed om u teen te staan. U sê self dat dié “wat mag stem ” ook so ‘n mosie ingestel het. Wie is hierdie wat mag stem, en hoeveel is hulle ? Uit wat ek op hierdie blog, ander blogs en koerante se briewe lees, lees ek al vir ‘n paar jaar vanuit die ondersteunersbasis ‘n oorweldigende mosie van wantroue.

    Elk geval kan dié huidige situasie nie voortgaan so dit nou gaan nie, en as ons enigsins ons VS rugby wil red en bewaar, sal ‘n totaal ander rigting ingeslaan moet word.

  7. CC Says:

    Dit sal great wees as al ons supporters aan die Cheetah club behoort dit sal soveel meer geld inbring & dan kan ons, ons spelers hou. As ek mag vrae hoeveel lede is daar in die club

    Oom Herold, bestuur, afrigters, admin & natuurlik die spelers ons support julle nog steeds 100% en weet dat julle vanjaar die Currie beker kan, nee gaan wen. Glo net in julself soos ek in julle glo.

    Ongelukkig is vanaand se game nie op TV nie, gelukkig sal Cheetah alert my op hoogte hou. Sterkte met die game & geniet al daai driee vanaand

    Cheetah 4 Life

  8. Pap Snoek Says:

    Chris (6) My ou maat ek dink jy het op n paar tone getrap en ek is bly dat jy n beter siening oor sekere ding vir die bloggers gee as wat Verster se, en hoe dinge agter geslote deure gebeur .

    Dankie ou pel en HAROLD onthou net een ding daar is manne wat saam met jou op die bestuur sit wat ook dalk opmerkings op die blog los self oor jou!!!!!!

  9. blou bul Says:

    Chris B ek stem saam met jou 100%.Mnr Verster,n speler soos Flip vd Merwe wat baie graag vir Vrystaat wou speel maar nooit die geleentheid as n voltydse speler gekry het nie,soos Chris se hy het net die bank warm gehou.Hy sou vir minder geld by Vrystaat gebly het as hy speelkans gekry het,en dit is n feit Mnr Verster.En so gaan Vrystaat baie spelers nog verloor.

  10. Kobus van Tonder Says:

    Ek Hoop Mr Verster lees die Blog blad, want ek het hom persoonlik al ‘n paar keer ontmoet.. en saam met hom in losies by die Valke gekuier, en ek moet toegee dat Harold ‘n mense mens is, ek het ook sy broer op ‘n onthaal ontmoet en selfs sy voete is op die grond. Dus wil ek hom bedank vir sy ope brief met antwoorde. Ek besef ook in die proffesionele Rugby verskil van die ou dae se Amateur rugby waar jy net spelers kon kies en uitlaat soos jy wil. Nou is jou speler ‘n werknemer soos by ‘n besigheid.. en as hy speel moet jou hom betaal en as hy op die bank sit moet jy hom betaal as jy hom nie kies nie .. kry hu nog sy selaris.. verbrou meskien sy wedstryd geld ens ens. Dus is dit meskien nie so maklik om senior spelers se drop nie.
    Maar ek dink tog dat daar ‘n metode wees om spelers wat nie hul kant bring te beboet of iets.. soos hul wedstryd geld verloor of iets.
    Ek blameer ook nie spelers as hulle gekies word nie .. want hulle kies hulle nie self nie, Ek vermoed ook dat Hawies die agterlyn kies.. Ek blameer hom ten volle oor Cheetahs se spel.
    Ons het ‘n goeie agterlyn .. maar die manne kan nie “perform” nie soos die engelsman sê. want die skrumskakel.. wat een van jou belangrikste skakels in rugby is.. is te stadig vir die nuwe rugby wat ons speel.. dus kry die anner manne nie kans nie omdat hulle bal en openent saam ontvang.
    Asseblief .. Mnr Verster.. gaan kyk na die video oor die laaste wedstryde .. en jy sal waar ons probleem lê.
    Kry vir ons ‘n nuwe agter spelers afrigter, selfs die onder 21 afrigter is beter.

    Weereeens Dankie vir jou groot moedige antwoorde

    Groete

    Haak Vrysta-a-a-a-a-a-t !!!!!!

  11. JJ Says:

    Aan ons ED n GROOT THANX vir jou moeite word waardeur. Aan MNR HAROLD dankie vir die komminikasie. Daar is n groot begrip rondom die finansies en begroting en ons verstaan al te goed die feite dat as jy in n winkel instap met R10 en n ander man met R20 dat die ou met R10 nie kan koop ietsie beter of groter as die ou met R20…Maar ek moet ook saam my medeblogger CHRIS B saamstem oor paar punte(geld, afrigters ens) wat hy noem wat kopkrap en die 2 +2 nie by 4 kry nie. Ons ken ook almal die praktiese oefen van as jy die maand R10 spaar en volgende maand weer R10 het jy R20 wat jou instaat stel om ietsie beter en groter te koop. JP JOUBERT geld mors, MENTZ op die oomblik geld mors, BENJAMIN gaan geld mors wees, ons sit met al klaar genoeg goeie vleuels en het die diepte as ons afrigters hul net wil gebruik soos JW, maar n gebrek op loskakel, skrumskakel, heelagter……ons koop al die ouens by ander unies waarvan hul eie unie hul nie wil he nie, spaar die R10 vir n jaar of wat en bloei eers in jou eie opkomende jong talent die o/19, o/21 maak daardie talent was en van al die R10 wat gespaar is koop iets groot en die moeite werd. Met MAPOE well done en ek se well done omdat VRU n agent bloed neus gegee het dit gebeur nie sommer nie..wat net hartseer is is hoekom voel MAPOE so ongelukkig en verklaar dat sy verhouding met VRU verbrokkel is….dit se ook iets? Net n afsluiting ons sien nie net die negatief nie, maar wil komplimenteer ek dink VRU het gegroei in die wyse waarop hul GROOT GAMES hanteer, as ek dink aan die 1ste finaal teen BULLE en die LIONS wat se chaos daar was en die organisering daarvan en hoe dit nou is se ek WELL DONE!

  12. GSP Says:

    Ek stem saam met die jong spelers wat nooit kans kry nie, ek dink ook nie meer die gees van die span is reg nie, as dit die geval was sou daar nie gesmeek geword het dat hulle 80minute moet speel nie, of is hulle net nie trots om op die rugbyveld hul beste te gee nie?

  13. Miello Says:

    Mnr Verster, ons waardeer die tyd wat u afgestaan het om met ons te kom gesels. Bloot uit die ander bloggers se reaksie hierbo, kan ek aflei dat baie van ons meer gerus gestel is. Ek stem saam dat sommige menings voorheen baie kras en persoonlik geraak het, maar uit die reaksie hierbo kan u sien dat dit ook dadelik verander het. Ek dink ook die kras opmerkings het week by week erger geraak oor daar nooit op ons vrae antwoorde gegee was nie.

    Ekt al voorheen gevra dat iemand van die afrigtingspan, speler of bestuur bietjie met ons kan kom gesels, en dit was verblydend om te sien dat ons sommer ons president gekry het. Dankie vir u antwoorde, wat verseker baie dinge bietjie in perspektief geplaas het. Ons het nog ‘n halwe seisoen oor, en kan ons asb vra om bietjie iemand te kry om gereeld hier met die ondersteuners te kom gesels?

    Groot Cheetah ondersteuner!

  14. Martin Says:

    Baie dankie Harold ! Soos hier bo deur ‘n ander blogger gesê - dit het guts gevat van jou en ek waardeer jou eerlike antwoorde ! Ek wonder nou maar net: as jy bv ‘n BB of WP ondersteuner gaan vra wie is hulle president en die CEO of hulle jou sal kan antwoord !?

    Verder moet hierdie persoonlike aanvalle op en “name calling” van spelers en ampsdraers ook einde kry(ek stel voor die webmaster plaas dit nie eers nie!)Dit getuig in elk geval van swak karakter en opvoeding en is ongevraagd ! Ek kyk en ondersteun Vrystaat rugby al van die vroeë sestigerjare af en ek sal ‘n Vrystaat/Cheetah ondersteuner bly vir so lank ek leef !

    Ek glo ook dat geen Vrystaat/Cheetahspeler ooit op ‘n veld draf om doelbewus swak te speel nie !
    Ek glo elke speler is daar omdat hy vir die Cheetahs wil speel en trots is daarop om daai pragtige trui elke Saterdag oor sy kop te trek!

    My boodskap vir vanaand - gooi die bal rond ; skrum hulle in die grond in en speel julle harte uit!

    Sterkte vir die res van die seisoen CHEETAHS !!
    Glo in julself !

    ptaCHEETAH

  15. WE Brown Says:

    Harold, dankie vir die harde werk wat julle in belang van ons geliefde Vrystaatspan doen.
    Blogger is welkom om vir die Bulle te skreeu, ons het nog altyd oor die weggekom met lojale Vrystaat ondersteuners en hy kan dus gaan.Ek bly in Pretoria reg oorkant Loftus en ondersteun Vrystaat vir bykans 50 jaar.

    Sterkte met julle groot taak.

  16. Jacques Says:

    Ek is n cheetah ondersteuner vir die laaste byna 40 jaar..en die Lionel Mapoe sage maak my naar..hoekom moet ons iemand smeek om te speel as hy duidelik nie wil nie..en wat se nonsens gaan hy aanjaag as hy wel speel..dis nie die eerste kontrak met die Sharks wat suur gaan nie bv.Willem Alberts,Jurie Ludik..die Sharks trek ander unies,veral die Cheetahs, leeg met hoe bedrae geld wat ons nie kan bekostig,dink ma aan Andre Joubert,Honiball,Pieter Muller ,die Du Plessis broers ens.,en as ons n losskakel by hulle wil trek,wat elke week langs die kantlyn sit,die losskakel Monty Dumond,is daar n probleem,hulle het mos nou vir J-L Potgieter ook gekontrakteer(wat sy losskakel spel by die Cheetahs geleer het!!),wanneer gaan hy nou speel?..en dis bewys dat,as die Natal skole uitspeel,en Grey speel proewe,waar is die Sharks keurders,in Bfn!!Daar is hoeveel spelers van Grey se eerste span ,outjies in Gr 11 en 12,wat reeds
    kontrakte het by die Sharks..dit was altyd my tweede span,die wyse van spelers bekom is n probleem..wat my bring na die Mapoe geval.Dis reg ons staan op ons regte,gaan hy egter sy bes lewer vir die Cheetahs,sou hy speelkans kry?Die agent,Jan-Harm van Wyk,het seker n redelike bedraggie kommissie ontvang vir die “illegal”oorplasing,nou gaan hy dit dalk verloor,en die unie en speler
    word benadeel - Geld Geld,waar is jou einde?Spelers gee nie meer om vor speelkans nie,hulle sal die bench warm hou,solank die geld reg is..nog n vb Kennedy Tsimba>>Wat ons span aanbetref,ek lees n artikel wat Naka se hy gee nie om vir bonuspunte nie,net eers die game wen..dis die Luiperds for crying out loud!!!!Bonuspunte is belangrik,veral vir ons..hoeveel keer het dit nie al n rol gespeel in on Super 14 en Curriebeker veldtogte nie..Die span ,en afrigters,kort “Killer Instinct!!”Waarom altyd settle vir tweede beste,ek verstaan nie!!Speel 80 minute ouens..Cheetah Ondersteuner

  17. Chris Says:

    Guestwriter,, ek hou baie van ChrisB se volgende vrae –> 1, 2, 3!
    Ons regtig nie klomp klagatte hier nie! Die bloggers is almal baie besorgd oor die Cheetahs.

  18. Chris Says:

    Kan iemand net vanaand vir RSG en radio-oranjy gereeld op hoogte hou van ons rugby tellings! Ek kan nie die wedstryd bywoon nie omdat ek op die pad is vanaand! :( Komaan!

  19. Quinton Says:

    @Geustwriter 15 jy praat van hoe elke mens sy span keuse het en dat nie almal tevrede gestel kan word nie maar week na week lees ek hoe elke blogger se dat bosman, de bruyn, caldo, scholts en strydom moet uit, week na week lees ek hoe elke blogger se dat Snyman op buite senter moet speel en die Ebershon broers langs mekaar moet wees en dan praat jy van “redeneer in soeke van n wen span”, ek is jammer maar weet die blogger hier niks van rugby af nie? hoe kan jy praat van dit, as elke persoon wat op die site is en nog duisende ander so eenstemmig is oor die veranderinge wat moet plaas vind op en af van die veld af.

    So ver as die antwoorde op die vra gaan, vier finals(waar van twee tuis was)later en dit maak geen verskil aan die feit dat die gat reeds gegrawe is!

  20. Kobus Says:

    guestwriter ek wil net ‘n regstelling maak. Bykans Al die ondersteuners is dit eens wie moet speel en wie nie. Die vreeslike verskille is tussen afrigters en ondersteuners. Kyk maar in die argiewe, 90 persent kla basies net oor 3 of 4 spelers. Dieselfde spelers. Waarom bly Bosman Debruin in beginspan en kry Jonker Carse en Floors nie kans nie. Dit vra meer as 90 persent van ondersteuners!

  21. Kobus Myburgh Says:

    Meneer Verster kan jy my net een vraag antwoord: Hoekom is JW Jonker heeltemal uit die groep gelaat en hoekom kry hy nooit kans in die beginspan nie? Is hy nie goed genoeg nie, of wat?

  22. Chris Says:

    Kan ek nie maar nog ‘n vraag aan Harold en die VRU bestuur vra nie:

    Ek is tans op die pad en luister op RSG na die wedstryd tussen die Bulle en Griekwas….. Dit was 10min terug halftyd en hul het die telling van die Leeus teen die Pumas se wedstryd (2) TWEE keer gegee maar hul het nie eers die Cheetahs se telling genoem nie.
    My vraag aan Harold Verster is: Hoekom? Hoekom? Hoekom word daar nie na sulke eenvoudige goed gekyk om die Cheetahs se naam te bevorder nie? Die media maak asof die Leeus ‘n groter span is as die Cheetahs terwyl dit nie so is nie!

    Hoe kan ondersteuners die Cheetahs se doen en late volg as dit nie met die media meegedeel word nie? Verlede jaar het presies dieselfde gebeur en die Editor het gese dat daarna gekyk sal word. Hoe lank gaan dit julle van voodat julle kyk daarna om die Cheetahs as brand te bemark?
    Ek het persoonlik vir Johan Rademan, (Destyds) Niki vd Berg, die “query” email by die SAUK asook Supersport eposse gestuur en gevra dat hulle ons meer op hoogte moet hou van die Cheetahs se doen en late.. Ek het voorgestel dat julle dit ook doen: se vir die media dat julle ondersteuners kla daaroor dat hulle punte nie deurgegee word soos die ander top spanne se punte nie! Ek wil hê dat julle moet agterkom dat julle ‘n groot rugbyunie is en dit verkondig. As mens die hele tyd gaan “opkrul” net oor die kleiner budget gaan ons soos boemelaars altyd met min tevrede wees!

  23. Hams Says:

    Ek wil die versoek ondersteun dat Mnr Verster vyf minute van sy week (elke week) afknyp om met ons hier te praat. So ook Naka en Hawies. Ek dink eerlikwaar nie dit is te veel gevra nie. Inteendeel in enige normale besigheid word daar gereeld ge”interface” met jou kliënte wat tog jou belangrikste bate is.

  24. Kobus Says:

    hoekom dan nie maar supersport 6 gebruik vir ons nie? Ek wonder of die Luiperds nie meer uitgesaai is as ons nie? Die bulls is teen die Luiperds uitgesaai en ek dink daai naweek het ons teen Pumas gespeel wat OOK nie uitgesaai was nie. Wed julle die Bulls vs Pumas gaan uitgesaai word, of ten minste opgeneem word vir die hoogtepunte, ten minste. Ek gaan maar kyk daar in Nelspruit met my Cheetah trui aan en hoop die Bulls verloor - sorry Blou Bul…. Sal Cheetah WP game opneem na die tyd ‘delayed live’ gaan kyk.

  25. Daan Says:

    Harold, dankie vir jou eerlike antwoorde. Ai man, al wat my pla, is dat terwyl ons vir 27 jaar nooit die CB gewen het nie, ons elke jaar gespeel het soos ‘n span wat ‘n goeie kans het om te wen. En ons het dit geglo. Deesdae twyfel ons en staan ons gereeld ‘n kans om teen ‘n swakker span te verloor, bv die Lions verlede week. Ons moet regtig hard daaraan werk om elke jaar minstens die senior kern van ons span te behou. En ja, dit is sleg as jy seisoen kaarjies op die hoofpawiljoen het, en jy nie eers rustyd ‘n bier op die boonste vlak kan drink nie, of ‘n vuilgoed drom om ‘n koeldrank blikkie in te gooi nie. Sterkte manne en gee ASSEBLIEF die WP Saterdag pak op Nuweland.

  26. Cheetah Supporter Says:

    Go Cheetah’s Go !!!
    Go Cheetah’s Go !!!
    Go Cheetah’s Go !!!

    Sterkte ouens !!! Looi daai streep truie asseblief !!!

    Go Cheetah’s Go !!!
    Go Cheetah’s Go !!!
    Go Cheetah’s Go !!!

Leave a Reply

Anti-Spam Protection by WP-SpamFree