Harold maak hart oop

Sukses in die Absa Curriebeker, ’n gesukkel in die Vodacom Super 14-reeks, min geld, bouwerk vir ’n nuwe hoofpaviljoen, die voortbestaan van die Vodacom Cheetah-streekspan, die verlies van topspelers en die bestuur van ’n rugbyunie waaruit van Suid-Afrika se heel voorste talent ontspring. Dit alles is kwessies waaroor ondersteuners van Vodacom Cheetah-rugby ure om redekawel. HAROLD VERSTER, president van die Vrystaatse Rugbyunie, het te midde van die huidige kritiek wat die unie beleef perspekftief probeer gee in ’n onderhoud met PIETER JORDAAN.

Lê fout by afrigters?

Halfpad deur 2007 het Naka Drotské by Rassie Erasmus as hoofafrigter van die Vodacom  Cheetahs se Curriebeker en Super 14-streekspan oorgeneem. Erasmus het in sy tyd as afrigter twee keer die Curriebeker verower, waaronder die eerste sedert 1976, en sy twee Super 14- probeerslae het in ’n tiende en elfde plek geëindig.

Drotské het skitterend begin met sy span se stormloop na nog ’n Curriebeker-titel. Sedertdien het die Vodacom Cheetahs (voor vanoggend se wedstryd) altesaam net een uit 18 Super 14-wedstryde gewen en nege uit 15 Curriebeker-wedstryde gewen.

Sy regterhand is Hawies Fourie, die voormalige Boland-afrigter, wat nou die agterspeler-afrigter is.

VERSTER: Kyk, dit is ’n feit. Om afrigter te wees is ’n baie riskante en tans baie ondankbare werk. As ons span aanhou verloor, sal daar ernstig gekyk moet word na die afrigter en die span.

Ons sal wel al die faktore, soos ’n klein begroting en die feit dat dit ’n jong span is, in ag neem.

Is ons afrigters goed genoeg? Hawies se agtergrond-skets is baie goed. Hy het die Ceres-rugbyklub uit niks opgebou tot ’n kampioenspan wat Maties geklop het, WP se klubkampioenskap gewen het en amper die (nasionale) klubkampioenskap gewen het.

Hy het Boland afgerig en die Vodacombeker twee keer gewen en sy stem in die Curriebeker dikgemaak. Dus kan hy afrig as jy na sy rekord kyk. Ek het baie agting vir hom as ’n baie konsensieuse, gedissiplineerde mens met integriteit.

Naka het nie so baie ervaring as afrigter nie. Hy het wel onder baie topafrigters gespeel oos Nelie Smith, Kitch Christie en Nick Mallett. Hy was ook kaptein-afrigter by London-Irish in Engeland en hulle het baie goed gevaar in die Engelse ligas.

Hy het ook twee jaar gelede die Curriebeker gewen, al sê mense hy het op Rassie se golf gery. Hy was steeds die afrigter toe hulle gewen het.

Persoonlik dink ek Naka-hulle leer uit hierdie huidige situasie. Hulle bepeins diep en besef hulle is dalk te patroonmatig en moet die spelers toelaat om meer spontaan te wees.

Die span is sonder twyfel fiks. Ek het groot agting vir Niel du Plessis (fiksheidsafrigter).

Ons kom trouens in die laaste 10 of 20 minute elke slag met meer krag en energie as die teenstanders terug.

Niel werk ontsettend hard en draf elke oggend 06:00 saam met die span en gaan saam gimnasium toe.

Hy het ’n baie wetenskaplike benadering.

Die spangees is ook baie goed en dit is een van die mees aangename en toegewyde spanne nog.

Hulle lag en speel saam en daar is geen struwelinge en ontevredenheid in die kamp nie.

Ek dink die span sukkel weens ’n gebrek aan ervaring, maar die spelers en afrigters leer daaruit.

Ek glo hulle sal regkom.

As hulle nie regkom nie, sal ons moet kyk wat gaan aan.

Naka, Vodacom Cheetahs onder druk

Die Vodacom Cheetahs het vanjaar die moeilikste loting denkbaar in die Super 14-reeks gekry en het die seisoen gevolglik met vyf agtereenvolgende nederlae begin. Die span het verlede jaar sy Curriebeker-titel aan die Haaie afgestaan. ’n Bouproses in spanverband is verlede jaar begin en ondersteuners is angstig om resultate te sien. Daarbenewens het bewerings aan die lig gekom oor ’n eis teen Naka Drotské (afrigter) oor sy beweerde verhouding met ’n getroude vrou van Bloemfontein.

Bewerings dat dié aangeleentheid Drotské se afrigting of die span beïnvloed, word deur die VRU ontken.

VERSTER: Ons is geweldig onder druk en kry baie e-posse, SMS’e en telefoonoproepe oor die span se swak vertoning. Die voorval rondom Naka, is ook redelik hoog op die agenda.

En dan word ons oor die algemeen aangevat dat ons swak bestuur, swak kontrakteer en nie die besigheid regtig op spoor het nie.

Vrystaat-rugby en die Vodacom Cheetahs-bedryfsreg erken dat die span tans swak speel. Daarvoor is daar nie verskonings nie en ons ondersoek die redes indringend. Ons dink dit het met die gebrek aan ervaring en spankohesie te doen, aangesien die span nog nie baie saamgespeel het nie.

’n Span soos die Blues, wat die titel al drie keer gewen het, sit met verskeie spelers wat al tussen 50 en 100 Super-rugbywedstryde gespeel het.

Ons moet in ag neem dat ons die afgelope twee jaar bykans 18 top-rugbyspelers verloor het.

Naka se insident waaroor daar berig is, het ons almal heeltemal onkant gevang.

Dit was vir ons ’n onaangename ervaring.

Ek en hy het twee dringende gesprekke gehad. Dit (die voorval) het lank terug gebeur.

Die nuus is blykbaar deur mense teruggehou en bekend gemaak toe ons oorsee is en toe hulle begin verloor.

Hy sê vir my sy dinge is uitgesorteer, maar daar is hofsake op hande.

Juan (Smith, kaptein) sê dit het hoegenaamd geen invloed op hom of op die span nie. Hulle staan by Naka, hy het met hulle gepraat en hy (Smith) het begrip vir die situasie. Die span ook. Naka was baie stil op ’n tydstip, maar hy het hom reggeruk en Hawies sê dit gaan goed met hom en hulle fokus op die werk wat hulle moet doen.

Dit is al wat ons kan sê. As die direksie vasstel dat enige voorval van die speelveld af van afrigters of spelers of bestuurslede op die span se spel ’n invloed het, sal hulle met mening ingryp.

Ek glo Vrystaat-rugby was in geheel al deur moeiliker tye. Daar is ’n ou gesegde: Tough times don’t last, tough people do.

Ek het vir die span en spelers gesê ons gaan deur taai tye, kom ons kyk wie is die taai manne wat anderkant gaan uitkom. Ons moet die span ’n kans gee. Hulle het ’n verwoestende toer gehad en dit was warm, bedompig, winderig en nat.

Pad vorentoe vir Vodacom Cheetah-rugby

Rugby in die sentrale streek het uitsonderlike struikelblokke om te oorkom. Vrystaatse rugby het wel met sy sukses in 2005, 2006 en 2007 hoë standaarde gestel en ondersteuners stel nou hoër verwagtinge as voorheen op en van die speelveld af.

Die Vodacom Cheetahs wil die toekoms nog meer beroepsgerig benader en terselfdetyd probeer om jaarliks wenspanne vir hul lojale ondersteuners te gee:

 

VERSTER: Ek het in my lewe en loopbaan nie soveel kritiek soos nou ervaar nie. Die afgelope weke was die ergste en ek was boonop in Australië, dus was dit baie moeilik om te reageer. Ek was self in die spervuur.

Daar word gesê die span kry nie leiding nie.

Ons doen tans niks anders as toe ons die Curriebeker drie keer agtereenvolgens gewen het nie.

Ons bestuurstyle, energie en passie is dieselfde en die onderlinge samewerking tussen ons, Griekwas en die Griffons is beter as voorheen.

Die bestuur het ’n oop gemoed en is steeds ’n goeie bestuurspan. Ons moet net harder werk en nie paniekerig raak en begin ontslae raak van mense nie.

Vir die span wil ons ’n kern van junior spelers behou, soos ons sewes-spelers (Robert Ebersohn, Wilton Pietersen, Phillip Snyman, Lionel Mapoe, Howard Noble).

Ons moet hulle tot vier jaar lank hou en ook die sterre in ons senior geledere behou.

SuperSport (as aandeelhouer) sal ons ook help. Ons moet net slimmer boks met dit wat ons het. Ons kan dalk bietjie beter kontrakteer. Die kontraktering is hersien en ons gaan dit beter koppel met ons junior geledere.

Ons moet ook net die persepsie dat ons baie geld gekry het omdat ons die Curriebeker drie jaar agtermekaar gewen het uit die weg ruim.

As jy ’n weg-eindstryd speel, kry jy R250 000 (in 2005 – dit is vandag R500 000) en as jy tuis speel moet jy die besoekende span en jou eie spelers se bonusse ook betaal.

As jy wen, wil die hele wêreld jou spelers koop, dus gaan dit met baie druk gepaard.

Ons weet die span se vertoning is vir die publiek ’n barometer hoe dit by die Vrystaatse Rugbyunie gaan.

Daarom wil ons ’n een-span-konsep instel waarvan almal hier deel is. ’n Gekerm in ons eie huis oor die span sal nie geduld word nie.

Almal moet saamwerk. Van die skoonmaker tot by die kaptein – dit alles speel ’n rol.

Ek het baie moed vir die toekoms en ons kan die probleme wat ons nou ervaar. uitgestryk kry.

Ons het baie ervaring in die direksie en die bestuurspan wat gesoute rugbymense en geharde sakemanne is. SuperSport se direksie is bekwame sakemense.

Ons is vol moed, want ons het fantastiese junior talent.

Daar word ook gevra hoekom bring ons so baie Bolanders (spelers) hierheen.

Maar as jy begin om spelers te soek om te kontrakteer, is die top- ouens op senior vlakke oor die algemeen klaar vir drie of vier jaar by unies soos die Bulle, WP en Haaie vasgemaak.

Ons afrigter se visie is om jong ouens eers aan sewes-, Vodacom- en Curriebeker-rugby blootstelling te gee, en dan gaan hulle as ’n groep meer gereed wees vir Super 14 speel. Naka het gesê dat hy ’n twee- tot driejaarplan het. Ons kan nie van hom verwag om al die sukses in die wêreld nou al te behaal nie.

Geld bly ’n probleem

Praat van Vodacom  Cheetah-rugby en finansies en iemand sal jou sê dat plaaslike rugby nie die luuksheid van groot geldkoffers soos die sogenaamde groter unies in Suid-Afrika het nie. Lesers wil weet hoekom nie en of dit gaan verander?

VERSTER: Ons verloor jaarliks spelers. Die vraag is hoekom? Die rede is geld. Die vraag is dan hoekom het ons nie geld soos ander unies nie? Die rede is die omset van daardie maatskappye is net soveel groter as ons omset. Die Haaie het nagenoeg R150 miljoen omset en ons het nagenoeg R50 miljoen omset (wanneer die streekspan en Vrystaat onder een hoed geplaas word).

Dus het hulle heelwat groter spelerbegrotings in die omgewing van R30 miljoen en meer, terwyl ons s’n R18 miljoen is.

Ons mark is soveel kleiner. Die feit is dat Vodacompark net 100 losies het wat teen R90 000 per jaar elk verkoop word – en ons stoei om dit verkoop te kry. Die Haaie het 300 losies en vra R120 000 en meer vir elkeen en almal verkoop uit.

Dan het hulle 25 000 seisoenkaartjies en ons spook om 8 000 te verkoop.

In die 100 km rondom Vodacompark is daar volgens statistieke wat ons vantevore saamgestel het, sowat 150 000 potensiële toeskouers.

In die 100 km rondom Nuweland is daar sowat 2 miljoen moontlike toeskouers en omtrent 1,6 miljoen vir die Haaie in die Durban- en Pietermaritzburg-omgewing.

Dus is ons omtrent tien keer kleiner en doen ons eintlik goed wat markpenetrasie betref.

Wat ons geldsake vorentoe betref, moet ek noem dat die wêreld se ekonomie onder druk is.

Ons ervaar dit ook en daar is van ons borge wat onder druk kom. Ons is saam met Supersport besig om ons finansies in te rig vir swaar tye sodat ons finansiële stabiliteit kan handhaaf.

Dit vat baie tyd en energie. Ons direksie se uitgangspunt is dat die kern van ons besigheid steeds ons topspan is.

As hulle nie goed doen nie, kom al ons aktiwiteite onder druk en verkoop seisoenkaartjies nie en die borge onttrek hulle.

Of die Vodacom Cheetah-bedryfsreg ’n toekoms en ’n mark het, is ’n bekommernis vir almal.

Die gevoel is dat ons ’n ongelooflike voedingsbron van Suid-Afrikaanse rugby is.

Ons het versekering van SA Rugby gekry dat ons gaan voortbestaan.

This entry was posted on Monday, March 23rd, 2009 at 11:12 am and is filed under Management. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.

30 Responses to “Harold maak hart oop”

  1. John Says:

    Nee wat Herold,

    heuning om die mond gaan nie werk nie!

    Doen die regte ding en bedank

  2. CheetahTrots Says:

    Ek is so bly die brief is hier gepubliseer!

    KOm ons kyk of Herold my hier sal antwoord nadat ek hom en die volksbald die brief gestuur het?

    Beste Mnr Herold Verster,

    doen die unie en spelers n guns en bedank! Julle hou die selfde ‘probleme’ die heeltyd voor die ondersteuners, wat het julle in die afgelope drie jaar gedoen om die ‘probleme’ te oorkom? NIKS!
    Dink u regtig dat die jong opkommende spelers by n unie wil bly wat nie eers n super14 wedstryd kan wen nie?
    As julle die jong spelers kry om te bly in die unie, gaan julel net WEER die verskoning gebruik van dit is n jong span. Hoekom weet die kaptein, as jy goed genoeg is is jy oud genoeg, maar die bestuur kruip nog agter dit weg?
    “Tough times don’t last, tough people do.” Dit is net jammer die tough people leer nie uit hulle foute nie, hoe gaan die ander gesegte: n Donkie stamp sy kop net eenkeer.
    “Ons doen tans niks anders as toe ons die Curriebeker drie keer agtereenvolgens gewen het nie. Ons bestuurstyle, energie en passie is dieselfde en die onderlinge samewerking tussen ons, Griekwas en die Griffons is beter as voorheen.” - Dit maak my die meeste bekommerd, dat daar niks nuuts gedoen word nie, comfort Zones is meer belangrik! Al die ander spanne kry nuwe idees, nuwe bloed, nuwe maniere. Cheetahs, staan stil. Ek het al geleer dat die lewe soos n roltrap wat terug rol, as jy nie aanhou beweeg voorentoe nie, dan gaan jy eintlik agter uit.
    Geld geld geld, vra enige Cheetah rugby bestuurder wat is die probleem? Geld! Hoekom gebeur dinge? Geld! Hoekom dit of dat? Geld! Kom oor dit asb, julle is n bestuur span! AS n bestuurder van n besigheid nie geld maak nie, word hy geFIRE! Hoekom kan dit nie by die unie gebeur nie!
    Die brief sal seker nie geplaas word nie, en u sal dit seker nooit antwoord nie, maar ek belowe u dat die stadions sal leeg wees vir die res van die jaar as u nie n plan maak nie!

  3. JacoP Says:

    Mnr. Verster,

    Dit is ongelukkig dieselfde verskonings oor en oor. Die hekgelde, losies, toeskouers, ens.

    Meeste van die Land se jong en huidige sterre kom uit Grey College wat reg oorkant die pad van julle is.
    Wat keer julle om die sterre te identifiseer en ‘n kontrak aan te bied direk na skool, vir bv. 5 jaar?
    Ek kan myself indink dat die 18 jariges nie gaan huiwer om ‘n salaris te verdien, alhoewel nie so hoog soos ander unies nie, maar ten minste geld kry vir die sport waarvoor hy so lief is.
    Kyk na Ruan Pienaar, Frans Steyn, du Plessis Broers, Jean Deysel, ens… almal in Grey gewees, maar speel nou vir die Sharks.
    Die feit dat die Sharks die moeite gedoen het om die en ander spelers te identifiseer, sê nie vir my baie van die VRU se strukture nie.

    Maar dan sal julle eerder spelers aankoop wat lankal hulle verval datum bereik het, of deur ander unies uitgeskop is vir ‘n rede - hulle is nie GOED GENOEG nie, so wat laat julle dink dat hulle enigsins beter by die Cheetahs gaan vaar??!!

  4. Derick Says:

    Ek haal mnr Verster aan:”Ons het versekering van SA Rugby gekry dat ons gaan voortbestaan.”

    Dit is dieselfde SA Rugby wat 2 jaar terug die Southern Spears die versekering gegee het dat hulle in die plek van die span wat laaste eindig sal speel. Almal weet wat daarvan geword het. Die enigste manier om die sentrale streek se voortbestaan te verseker is om seker te maak ons eindig elke jaar (ook die jaar) bo ten minste 1 van die ander 4 SA streke. Enige vertroue in SA rugby is naief en ondergeskik aan politieke oorwgings en regeringsinvloed.

    Sterkte vir die 1ste tuis game. Ek gaan onder groot gespot van kollegas wel uit JHB reis en my seisoenkaartjie gebruik en kom skree (hopelik nie meer vloek uit frustrasie nie!!)

  5. Michael Cooper Says:

    Dankie mnr. Verster..

    Ek verstaan dat di probleme groot en realisties is. Di manne wat vra vir bedankings? Kom ouens, kom ons wees realisties. Dis ni ‘n maklike werk ni.. Ni naby ni!

    En herold hoef ni ons vrae te antwoord ni.. Hy sit sy kop so te se ‘op di blok’ om homself bloot te stel. En jul manne gebruik dit teen hom om sy kop af te kap.

    Ek verstaan jul is moedeloos, ek is ok, wat obviously ‘n direkte voorbeeld van ons liefde vi di cheetahs is.

    By alle regte is di cheetahs ni veronderstel om op di selfde speelveld te wees as mens na spelers waarde kyk..

    En kom ons wees eerlik, ons gn ons cheetahs support tot di dag wat ons dood is, deur dik en dun tye.. So kom ons staan by hul deur hierdi ‘moerse dun’ tyd! Ha!

    Sterkte!

  6. Bert Says:

    sjoe. maar baie mense spring skielik op hierdie bedank-bedank kissie. het julle vergeet dat ons 3 curriebekers gewen het onder harold se leiding? feite is feite. die finansies is nie daar nie en dit is deels ons skuld (onthou die artikel oor bywoning, losies, seisoenkaartjies ens?) die vrystaat maak nie van vandag af spelers vir ander unies groot nie. of het julle dit ook vergeet? na die finaal van 1997 byvoorbeeld het die vrystaat 12 spelers uit daai span verloor. ons het gierig geword. net soos die spelers wat waai. om n span te ondersteun beteken jy staan in goeie en slegte tye op vir hulle. partykeer skree jy VIR hulle, partykeer OP hulle. maar jy bly skree. ons sal sien volgende saterdag hoeveel mense het bly staan as hulle in bloem opdraf. ek vir een bly glo dit sal regkom. ONS SAL WEN. net soos ek die vorige ses nawake geglo het.

  7. John Says:

    Micheal,

    skies maar ek stem GLAD nie saam met jou nie, en soo ook nie 10000 ander onderteunsers nie.

    Jy se: “By alle regte is di cheetahs ni veronderstel om op di selfde speelveld te wees as mens na spelers waarde kyk.. ” - Jy is heeltemal reg! Met dit wat uit Grey colledge kom behoort ons altyd die hoofgame te wees en die ander spanne die voorskou. Jammer maar jy weet dit is die waarheid!

    Dink jy dit is maklik vir die CEO van Vodacom om hom self met die Cheetahs tans te assosieer?
    Dink jy Richard Brandson het dit maklik?
    Dink jy SAB se CEO sit terug en alles gebeur?

    DINK JY DIE BULLE/WP/SHARK se presidente doen niks en sit en kyk oor die gras die heeldag?

  8. John Says:

    Bert,

    kan jy my asb se hoekom ons dan na 3 Currie Bekers die unie agter uit gaan?

    n Mens gaan mos vooruit in die lewe nie waar nie, nie agter uit nie

  9. JacoP Says:

    John,

    Ek stem saam met jou en voel dat die Unie al jare terug geweet het dat die bom gaan bars.

    Kom ons kyk weer vinnig:

    2006 - Eindig 10de met 5 wenne, maar wen weer die CC
    2007 - Eindig 11de met 4 wenne, maar wen weer die CC
    2008 - Eindig 13de met 1 wen, speel in CC semi-finale

    “Spot the error/problem”.

    Die Bulls en Sharks wat goed vaar met die S14 gedurende die jare, is verskeie keer deur die Cheetahs geklop, so wat is die verskil tussen die spanne in CC en S14?

    En niemand moet my sê dis ‘n ander kompitisie nie - die spelers bly dieselfde.
    As die Cheetahs die CC kan wen, beteken dit dat daar ten minste 16 punte in ons sakkie moet wees elke jaar, want ons behoort dan die SA spanne te kan wen in die S14.
    Ek sien dit egter nie die jaar gebeur nie en het ook nie in enige jaar tevore nie.

  10. Michael Cooper Says:

    Met profesiolisme in rugby wat groter en groter word, word speler jonger en jonger uit grey uit gekoop.. Robert en sias ebersohn was profesionele kontrakte aangebied deur al di groot unies toe hul ng op skool was en hul het dit van di hand gewys, so ook wilton pieterson. Die jong sentertjie wat in 08 sa skole gespeel het (venter ek dink) was toe hy 16 was ook kontrakte deur al di unies aangebied en so ook di crusaders.. Hierdi outjies het gebly want hul bloed is wit en oranje.. Dink venter kon toe eventually einde verlede jaar ni meer nee se vi di honderde duisende wat voor hom gewaai was ni.. Wat my eintlike punt is, is die’ ouens kom van bloem af, mar ni almal doen ni. Dis di beste rugby skool in sa en as jy ernsige rugby wil speel wil jy da speel. Of jy nou pure vrystater is of ni..
    Ek was in bloem gebore en in di vs skool gegn, toe trek ek kzn toe en di lewe is baie meer an di gang hier.. En as jy my R1500 000 aan bied om op di kus te bly of R750 000 om in bloem te bly.. Gn dit rerig ni ‘n moeilike besluit wesi..

    Ek se ni dinge gn goed ni, want dit gn obviously ni. Ek se net dat dit moeiliker is as net, maak geld.. Eks net 23 en jy weet seker meer van besigheid as wat ek doen, mar ek het gesien watse besighede en huveel mense hier is, compaired met bloem.

    Ek is bly om te sien jy dink aan dinge om dinge beter te maak John, beteken jy gee obviously om.. En dink baie vn di mense se idees opi site is goeies en hoor self di management luister da na.. Kan net beter gn.

  11. JacoP Says:

    Ek haal ook Mnr. Verster aan:

    “Ons sal wel al die faktore, soos ’n klein begroting en die feit dat dit ’n jong span is, in ag neem.”

    Moet asb. nie kom sta-en strond praat hier nie!!

    Die gemidelde ouderdom van die 30 spelers in die groep is 26 jaar. Hoe is de m..r is dit “jonk”?
    Jy klink al soos Loffie Eloff man!!

  12. Chris Says:

    1. Ofskoon H.Fourie “papiere” vir afrigting het, kan dit nie weggeredeneer word dat sedert hy die Cheetahs begin afrig het, het alle effektiewe, behoorlike agterlyn rugby uit die Cheetah span verdwyn ! Ons speel el;ke wedstryd slegs met 8 voorspelers, en sterre in die agterlyn se loopbane word verongeluk a.g.v. uiters swak agterlyn afrigting.
    2. Die ewige gled-kwessie. Dis logies dat daar minder geld in ‘n unie van die Vrystaat se grote invloei. Uitgesluit speler-begrotings, is dit dan ook logies dat daar minder onkostes uit ‘n unie soos Vrystaat BEHOORT te vloei. Borgskappe is dieselfde, die verskil lê hoofsaaklik by kaartjiesverkope en bemarking ! Bulle, Sharks, WP se bemarking van hul rugby, unie, ondersteuners ens., hul vermoë om hulle paviljoene so vol moontlik te kry, is die verskil tussen Vrystaat Rugby se finansiële vermoë, en die res. As top spelers slegs vir geld geloop het, waarom is Juan nog hier, en waarom het Os nie daarvoor geloop nie ? Hulle moes die mees in-aanvraag-spelers van hul tyd gewees het. Het W.de Waal nie teruggekom nie a.g.v. geld, of is Duanne weg oor geld ? Nee, hulle is weg omdat pawiljoene leeg is, hulle opponente by die bulle, wp, sharks, die Springbok baadjies kry wanneer hulle eintlik die top en in-vorm spelers is, en Vrystaat se bestuur geen stem het om hierdie ouens se saak te bevorder nie !!!
    3. Ongeag hoeveel potensiële toeskouers in ‘n sekere radius van die stadions af bly, kan hierdie stadions slegs ‘n sekere hoeveelheid toeskouers akkomodeer. Die verskil is weereens dat ander top unies se stadions maksimum benuit word omdat hulle spelers wen, proffessioneel is op die veld, sitplekke met professionele bemarkings metodes volgemaak word, en allerhande ander “merchandise” beskikbaar is vir onderstuners ! As die Vrystaat stadion slegs 50% van die “potensiële” toeskouers na wedstryde sou trek, dan verander die Unie se geldsake soos handomkeer ! Maar tans ry bitter min van ons ‘n 100 km om na ‘n Cheetah span te gaan kyk, wat nie een van ons op trots kan wees nie, en wat vir ons wat bied vir sulke opoffering ? En dis logies dat weinig besighede sal belangstel in losies wat deur ‘n seisoen baie meer as net R 90,000 kos, en gaste en kliënte stel nie belang om wedstryde by te woon nie.
    4. Ja, ons situasie in die VS is anders as in Gauteng, Durbam en Kaapstad, daarom het ons ‘n ander manier van doen nodig, en ek is jammer maar die huidige bestuur het doodeenvoudig nie daardie kundigheid en vermoë nie. Die begrip van wat die huidige prof.era van rugby beteken en vereis, wil nie voorkom asof dit in die huidige VS rugby bestuur teenwoordig is nie.

  13. Peet Says:

    Harold, teen hierdie tyd is ons almal bewus van al die probleme wat die Cheetahs in die gesig staar - wat ons wil weet, is hoe gaan julle dit oorbrug! Vir ons ondersteuners lyk dit asof julle wag dat dit self moet weggaan, maar dit sal nie gebeur nie! Het julle planne op die tafel waarvan ons nie weet nie? Die Lions het reeds twee wedstryde gewen, maar ek lees vanoggend dat hulle poog om Eddie Jones se dienste te bekom. Ons wat nog niks gewen het nie, doen niks om ons afrigting te verbeter nie. Dink jy nie ons moes eerder Jones, of Heyneke Meyer, se dienste bekom het nie - ons is die span met waarskynlik probleme in die afrigting.

    Ons weet nou van al die Cheetahs se probleme; ons aanvaar dit. Maar wat gaan ons doen om dit te oorbrug? Die afrigter fire, die president fire, hulp vir die afrigting kry, nuwe spelers aankoop, nuwe gees inblaas? Harold, watse leiding gaan jy gee? Ons as ondersteuners is bekommerd omdat niks gebeur nie en dit lyk asof daar geen strategie op die tafel is nie - doen net iets sodat ons nie verder stagneer nie! Met doelgerigte leiding hoef niks drasties gedoen te word nie - met die bestaande strukture en spelers kan ons sake nog regmaak.

  14. Bert Says:

    chris, os het ook al geloop. onthou, hy was destyds bulle toe (een van die spelers wat gewaai het na die finaal van ‘97) rassie het hom toe uit sy uitrede terug gebring vrystaat toe. juan het op hierdie webwerf gese hy bly want hys gelukkig in bloem. andre venter ook destyds. sien, volgens my is dit een van die groot probleme in sport vandag. ouens jaag die geld. min ouens het nog trots in n trui. en totdat dit nie verander nie, sal die vrystaat bly spelers verloor. ek se weer, dit gebeur nie van vandag af nie. dit kom al baie jare. ek vir een staan by die bestuur. ek voel hulle doen die beste wat hulle kan met wat hulle het. let’s face the facts:

    2005 - wen die curriebeker 29-25 nadat ons 15-25 agter was en die bulle sy bench wou speelkans gee en matfield, botha, botha ens afgehaal het
    2006 - eindig top of the log en speel geleikop teen die bulle
    2007 - verloor 3 spelers aan die bokke (onthou, die bokke het nie curriebeker gespeel nie-dit was wereldbeker jaar, so baie spanne was under strenght)

    is ons regtig soveel swakker as in die verlede? was immers in die semi laas jaar. met n paar laaities nogal (ebersohn, oosthuizen, peiterson)
    en die cheetahs of die cats het anyway nog nooit gekook in die super 12/14 nie.

    3 curriebekers het ons bederf en maak dat ons verwagtinge bo die realistiese uitstyg.

  15. Chris Says:

    Bert, jy is werklik meer as welkom om “by die bestuur te staan”. Jy is waarskynlik net een van min, en dit sou nou nie eintlik beteken dat die meerderheid verkeerd is nie, of hoe? Os was ‘n klein tydjie weg, en was reeds terug in die VS voordat Rassie as afrigter betrokke geraak het. Toe ons CB’s gewen het, het ons “in-aanvraag spelers” gehad wat ander unies wou hê, en waarvoor hulle kon BETAAL. Toe het nie een van die top spelers geloop nie.
    Vergeet jou teorie van : dis geld wat hulle weglok. Dis snert. Dis ‘n gebrek aan geleenthede, leë pawiljoene wat hulle inkomste, en loopbane, in gedrang bring.
    As 3 CB’s uit 30 jaar ons bederf het, dan is of ons, of jy met bitter min tevrede. Veral as die sterre in ander unies in jou nes uitgebroei en grootgemaak is. Die Sharks het in 2008 ongeveer 8 spelers aan die SB’e afgestaan ( nie net 3 nie ), en die CB gewen ?
    Wat probeer jy vir ons sê ( of word jy voorgesê ? )… dat ons maar moet aanvaar dat ons nie kan kompeteer met die ander provinsies nie, en ons ( met die grootste oeste aan natuurlike rugbyspelers, en ‘n stadion wat ook ten minste 50-60,000 mense kan vat) maar hierdie situasie moet aanvaar en tevrede wees, solank ons nie die bootjie skud en verwag dat amptenare wat ons in daardie posisie hou, moet vervang word nie ?

  16. Bert Says:

    chris. (en eintlik almal wat ongelukkig is)

    ek word nie voorgese nie. dit is net my nederige opinie. en my opinie is dat ons in die laaste 6 jaar 3 curriebekers gewen het (2005-2007) n finaal verloor het (2004) en in 2 semi finale verloor het (2003 en 2008) dit is beter as wat enige ander span in suid afrika kan se.

    deurentyd het ons ook spelers verloor. selfs in die wen jare
    (ollie, os, naka, corniel, ryno, barry, chris, phillip, boela)
    party het uitgetree, party het gegaan.

    ja, dit gaan bad. 6 in n ry verloor.
    maar ons het laas jaar ook al ons toerwedstryde verloor.
    en die jaar voor dit. en die jaar vooooor dit. (selfs met rassie)

    die ouens is nou by die huis. nou is die tyd om by hulle te staan.
    hulle vaar in elk geval beter teen ander tuis unies en ons speel nog die bulle, haaie en stormers.

    ja, die spelers uittog is n kwessie. maar dit gaan al dekades so. die probleem nou is hulle word vroeer gepluk (op skool nog)

    ek wil net so graag soos enige iemand sien dat ons talent bly.
    maar sport is soos die lewe. iemand kan jou iets betaal. iemand anders betaal jou iets anders.
    dis nie rocket science nie. ouens gaan vir geld en niks anders nie. jy word tog n springbok by die vrystaat ook, so obviously gaan hulle nie vir daai geleentheid nie. dis geld. kontant. wat ons nie het nie. wat ons nog nooit gehad het nie. anders sou ons mos nie van doerentyd aan die agterste speen gesuig het nie.

    dat die vrystaat kompeterend gebly het moet n pluimpie wees vir hulle. maar ons gee dit hulle nie.

    so, fire die bestuur. fire die coach. fire sommer die electrician ook. as iemand anders dit beter kan doen: i’m all for it.
    maar as die nuwe ouns die huidige status quo gaan handhaaf, leave change alone. dans ek happy met wat ons nou het.

  17. JJ Says:

    Harold ek is bitter teleurgesteld in jou vermoee en oordeelkundigheid as president om toe te laat dat NAKA nie bedank nie. Jy moan oor die probleme en en en en dat dit n jong span is wat ervaring kort, maar wie rig hulle af nog n onervare afrigters, die 1 blinde lei nou die ander blinders. Man as jul net van die begin af dinge raakvat maar dit lyk of jul gewoon is aan 2de beste in die lewe bele in n goeie harde gesoute ervare afrigters en die produk sal ook so wees. Ek stem CHRIS wat jy se. Harold dis nie die verloor wat ons kwaad maak nie, dis die manier hoe ons verloor hoe ons gameplan as daar ooit was, ons doeloosheid rigting wat ons ondersteuners die m@er in maak man. Nou se jy jul sal dinge in geheel eers kyk. Julle gaan nog so kyk en kyk en dan gaan julle na die lee paviljoene kyk. Ek het meer respek vir NATAL daai tyd met Kevin Putt toe die hul vir hom gese het om te gaan omdat hy nie die mas kon opkom nie. Harold jy is veronderstel VRU se belange te dra en drastiese stappe te neem as dit moet. Michael jy se wat, jy het begrip vir Harold en die werk en dis nie so maklik nie, weet jy hoe werk die sekulere wereld pel if you cant handle the heat stay out of the kitchen.

  18. JJ Says:

    EK Wens ek kon verstaan die Lions se coach het n moontlike rassistiese aanmerking gemaak en die LIONS tree op en fire hom Naka word beskuldig van owerspel niks word gedoen die OPSKRIF GEE NAKA N KANS EISH!! MNR HAROLD, n man se lewe huwelik word verwoes maar julle wil kyk en kyk

  19. Iluvrugby Says:

    Daar is min dinge wat my meer boos maak as hierdie “ons het nog n’ jong span” stelling,Loffie se dit al vir 5 yaar lank en dit lyk my dit is die roete wat die VRU gaan,harold kry die dinge reg of sit jou bedanking in want op die oomblik lyk dit nie of julle veel omgee vir ons as getroue ondersteuners nie.

    Waar is julle bemarking van die span,en ek praat nou nie van n’ paar bortjies op n’ lamp paal nie,wat doen julle om die stadium vol te maak,ek is jammer om te se maar die VRU is die luiste unie in die land,julle gee nie om oor julle ondersteuners nie en julle gee nie om oor julle spelers nie en dit alles begin by herold verster!

  20. Louis Nortje Says:

    Kry en koop spelers by groter unies. Die wat julle van die klein unies koop sal nie kan help nie, hulle kan nie die Cheetahs gebruik om ondervinding te kry nie!

    Daar is ouens op die bench by ander unies wat wat sou gee om meer rugby en in n beginspan te speel

  21. Chris Says:

    Harold,

    Jy mors die geld waarvoor ons spelers hard gewerk het nou op swak spelers en op ‘n afrigtingspan wat so groot is soos die span self. Jy en NAKA moet uittree met al jul hulpafrigters om jul - dit lyk my die enigste ding waarmee die hulpafrigters regkom is om jul te help verloor… ja, jul verloor baie geld deur die nuttelose hulpafrigters.
    Ek wens Ollie le Roux kan jul kom wys hoe om af te rig. Gee die pos vir hom!
    Jul spelpeil gaan nooit regkom nie en ek sal nie verbaas wees as jul aan die onderste helfte van die curriebeker reeks eindig nie.

  22. york Says:

    EK is net n bietjie bekommerd dat vrystaat vir sias en lionell gaan verloor,soos die geval was met ruan en frans steyn.Daai outjies het baie talent en sal dit nie miskien wys wees om hulle in diep kant in te gooi nie,wen of verloor en die vrugte volgende jaar te pluk nie.Net n vraag ek probeer nie slim wees nie.

  23. Louis Nortje Says:

    Ek wil by management weet wanneer en hoe begin die Cheetahs kyk vir spelers vir volgende jr? Hoe werk dit en hoeveel spelers, GOEIES, gaan na Cheetah land gebring word?

  24. Louis Nortje Says:

    Lyk my nie bogenoemde gaan geantwoord word nie…?? Ek dink dit sal goed wees om die ondersteuners in te lig oor hoe dit gedoen word.

  25. york Says:

    Louis Nortje dit wil vir my lyk of almal aan die slaap is.Ek kan nou vir jou se hulle gaan weer middel matige ouens kry.Kyk wat maak sias en daai cronje outjie in die o/20 wereld beker.Sit daai ouens in die currybeker.Sias op heelagter cronje op losskakel,daai ouens is wedstryd wenners.Hulle is goed genoeg om sa te verteenwoordig maar nie vrystaat nie.Daai laaities gaan die eindste vrystaat nog stukkend speel,en dan wil ek nie hoor van spelers begroting en allerhande snert nie.Frans steyn was ook destyds te jonk en toe sit dick muir hom in natal as n 19 jarige.Kyk waar is hy vandag.

  26. Danie Says:

    Ja mens is lus om n hele klomp onwelvoeglike naamwoorde te gebruik.
    1) Die begroting is glo R50mil. Daar is net R18mil vir spelers, hulle wat hulle lywe op die spel sit vir hul ondersteuners. Waar gaan die R32mil heen? Daar is n afrigter met soveel assistente om hom dat dit nie snaaks is nie, tot n fiksheidsdeskundige, n sielkundige en ouens vir bemagtiging, seker? Ek ruik n seekoei met die ore wat die spelers verteenwoordig.
    2) Dan skeidsregters, daai B.Ing Watson wat nie uit die chambers praat nie maar Cravenweek outjies links en regs met rooikaarte boelie,sies man! Die norm is tog GEVAARLIKE SPEL, so gee n ou dan n rooi kaart MAAR stuur n plaasvervanger op eerder as om die hele span EN die toeskouers te ontneem van n skouspel. Hoe moderner rugby raak hoe meer is skeidsregters betrokke en hoe meer van n getjommel. Baie geluk aan die Cravenweekspan, ek is trots op julle!!!!!

  27. Riaan Olivier Says:

    Die Vrystaat Rugby Unie is ‘n besigheid en moet as soseer bedryf word.Kry iemand wat ‘n besigheids fundie is , iemand met ‘n MBA of ander dergelike besigheids graad wat iets van besigheid af weet. Harold Verster weet niks van besigheid af nie en sal ook nooit. Ek is moeg om die grootste gedeelte van die tyd te sien dat Vrystaat net agteruit gaan onder sy leiding. Ek dink dit is tyd vir nuwe bloed . Maak skoon van bo tot onder! Raak ontslae van die Verster bende ! Kry iemand van buite af ! Dit geld vir die afrigters ook, maak skoon!Vrystaat sit altyd en slaap as dit kom by om Grey se spelers te behou , word wakker en sien die realiteite raak!

  28. Danie Says:

    Riaan, ek stem saam. Na gisteraand se wedstryd moet iets drastie gedoen word, of as die toeskouers verder krimp sal hulle dalk die skip verlaat. Wat van al die verloopte spelers oa van die Bulle en Boland (Boland seker omdat Hawies daarvandaan kom). Hoekom sal n speler van die Bulle Vrystaat toe kom? Seker net oor hy te lig gevind is by die Bulle. Ek sien Flip v. d. Merwe is nou in die Bulle se begin span maar hy was nooit heeltemal goedgenoeg vir die base by die Cheetahs nie, hulle sal seker se hy was beseer? Die voorspelers van die Cheetahs probeer nog iets doen en vaar redelik maar die agterspelers lyk nie of hulle veel afrigting kry nie, Ebersohn het darem probeer maar die verloopte gewese WP senter, ai tog. Wat sou Gysie hier kon uitrig?

  29. wow power leveling Says:

    A wonderful article…. In my life, I have never seen a man be so selfless in helping others around him to get along and get working. I feel good that there are people like you too. Thanks for this great weblog of yours. Its surely going to get me to go to higher places!

  30. Staffie 13 Says:

    Môre aan almal

    Ek verneem in die koerant dat ons naarstigtelik opsoek is na ‘n nuwe borg. Hoe lank het julle al geweet dat Vodacom gaan onttrek??

    Elke jaar hoor ons dieselfde ou storie oor en oor en dit is nou die holruggeryde verskoning van ” Ons het nie dieselfde begroting as die ander unies nie , en ons het nie so baie losies nie ens ens”

    Na aan leiding van bogenoemde het ek die volgende vrae :

    1. Wat het julle as bestuur van 2005 af gedoen om Cheetah rugby te verbeter ??

    2. Hoekom kan ‘n span soos Bloem Celtic so ‘n groot plaaslike borgskap kry en die Cheetahs wat elke jaar een van die top 4 spanne is nie ???

    3. Hoekom kan die Leeus so ‘n groot borgskap kry van buite af , maar ons nie???

    Is dit nie maar ‘n kwessie van ons bestuur sit maar terug want ons kry elke jaar ons vet salarisse nie?
    Is daar regtig planne in plek en mense in die regte poste om Cheetah rugby te bestuur soos ‘n besigheid?

    Ek sal graag op die bogenoemde antwoorde wil hê?

    Dankie

Leave a Reply

Anti-Spam Protection by WP-SpamFree